30 December 2013

‘n Juffrou onthou

Speeltyd was ook eettyd. Dan het Burger van den Berg, ‘n fris seuntjie met ronde boudjies en blouselblou oë, verby my tafel geloop, sy rooiwangappel voor my neergesit en vertroulik gesê: “Ek gee vir jou ‘n appel hoor!”  Die kyk in sy groot, blou oë het baie lekkerder as die appel geproe....en die appel wàs heerlik.

“Is dié ook pakgeeboekies Juffrou?” vra Casper kinderlik onskuldig toe ek nuwe boekies uitdeel. Dit was nog in die
goeie ou dae.

Ons lees “Little Jack Horner” en ek vertel van die seuntjie wat sy vinger in die “pie” gedruk het en voeg prekerig by dat dit nie juis goeie maniere is nie.
“Dis oor dit ‘n Engelsman is, Afrikaners maak nie so nie!” sê die slimme Andrew McSeveney met sy Engelse naam en van.

Een oggend roep Herman:”Juffrou, ek het Juffrou by die tolhek gesien!” Dit was toe eintlik by die padpatrollie.

“Hier kom Oom Balans!” Dit was die skoolhoof, Meneer Terblance.

“Hoekom wou Naäman nie in die Jordaanrivier gaan was nie?” vra ek een oggend tydens ‘n Bybelles. Blitsvinnig antwoord Francois: “Hy was bang hy kry bilharzia!”

Die einde van die jaar was ‘n woelige tyd. Dis uitstallings en dis puntestate en dis bevorderingstate en dis prysuitdeling en dis Barberton en dis WARM. Op die laaste dag is Juffrou se tafel toe onder die presente en mooi briefies van kinders en waarderende ouers. Hoe heerlik!

 

Ek kan kwalik glo dat dié foto drie-en-veertig jaar gelede geneem is. Dit voel soos gister.  Rui Cajada, 'n Portugeuse seuntjie, staan langs my. Hy het pikswart ogies nes korinte gehad en het sy "s'e" as "z" uitgespreek. "Izzz my werk mooi?"
Heel voor links sit Burger. Ek is dikwels naweke uitgenooi om by hom en sy ouers op die plaas te gaan kuier. Sy Pa was 'n bosbouer en dit was heerlik om met die kronkelpaaie deur die baie denneplantasies te ry.
Paultjie, wat regs voor sit, is "Pippel" genoem deur een van sy dogtertjiemaatjies, Louisa Goss. (eerste ry van voor, blonde derde dingetjie)
 Koos, Roelfie, Gerrie, Inus, Thomas, Riana, Marinda en Matilda.... waar is julle vandag, drie-en-veertig jaar later? Ek wens ek het geweet.  

23 December 2013

"Ek laaikit!"



'n Stukkie lewenswysheid het een mooi dag oor my kom spoel. Dit was storietyd aan die einde van 'n lang skooldag en al die Graad Eens het tjoepstil, hande-in-die-skoot gesit en wag vir die wonder-oomblik wanneer Juffrou gaan begin vertel. Wat 'n belewenis om die konsentrasie op hul gesiggies te aanskou, die absolute oorgawe, die intense meelewing.

Soms was dit lagwekkend en moes ek met groot selfbeheersing aan my storie vasklou, want sou ek glimlag of lag op 'n onvanpaste tyd, sou alles soos die mure van Jerigo inmekaar stort en was geheel die storie daarmee heen.

Dit was tydens een so 'n salige storiesessie waarin die hele klas doodstil aan-my-lippe-hangende, amper te bang om asem te haal, gesit en luister het, dat my oog op die woeligste donkerkop koshuisbrakkie val. Ek het deur die vensters-van-sy-siel tot binne-in sy onvoorspelbare dieptes ingekyk. Vandag het hy my weer getoets en beproef en besmart soos min kinders dit kon regkry.

Hy het die vermoë gehad om binne 'n sekond die rustigste atmosfeer in die klaskamer te omskep in 'n chaos. Hy kon die kalmste Juffrou verander in 'n Tierboskat. Nà 'n pouse sou hy met wat na één beweging gelyk het maklik ten minste vyf van sy klasmaats gelyktydig benadeel: hul potlode van hul tafels afklap, 'n skerpmaker vaslê, 'n broodjie laat val en dit op die vloer in 'n onaptytlike pappery vastrap of sommer skaamteloos vloek.

Waar hy nou hier voor my met sy swart oë sit, was hy egter 'n prentjie van vrede en geluksaligheid. Sy hele houding het getuig van afwagting. Roerloos, tevrede en gelukkig.

Toe maak ek 'n fout. Ek knipoog vir hom.

Onmiddellik jil hy dit vrolik uit: "Ek laakit as Juffrou vir my oogknip!"

Onnodig om te sê, dit was verby met my storie. Die res van die kleingoed het begin vroetel en woel en al die drade was uitgerafel. Ek het my bes gedoen om weer orde en rustigheid te kry, maar helaas!

Tog het iets my bly gemaak. Die amper heilige oomblikke van stille oorgawe wat 'n storie voorafgaan, was nie te heilig om 'n stukkie menslike warmte te deel nie en om uitbundig daarop te reageer nie.

Die blydskap oor die vertroulike knipoog, die wete dat hy dit presies op daardie oomblik syne kon maak en met trots aan almal kon uitbasuin, dìt was vir my koshuisbrakkie belangriker as die mooiste storie op aarde. Dìt het kleur aan sy saai menswees gegee.

En ek? Ek het nie omgegee nie. Daar sou nog baie storieverteldae vorentoe wees. Dae waarin ek nie nodig sal hê om oog te knip nie, want  Jacques sou weet.

20 December 2013

Eie bloed

Ons vyf.
 
Ek is geseënd met vier kinders van my eie. Dit was dus onvermydelik dat ek deur die lange jare van skoolhou nie ook vir hulle êrens en iewers formeel sou moes onderrig nie. Elke Ma en Juffrou wat al so-iets belewe het, sal met my saamstem dat dit nie die maklikste ding op aarde is om jou eie kinders  voor jou in die skoolbanke te hê nie. Hulle is mos been van jou gebeente en vlees van jou vlees.

Elkeen van my kinders het verskillend reageer op hul Ma as juffrou. Vir my eersgeborene was dit ‘n voorreg om haar ma as Afrikaanse onderwyseres te kon hê in haar heel laaste jaar op Laerskool.
Sy het vandat sy in die klas ingestap het totdat sy nà ‘n halfuur-periode weer uitgestap het, gemaak asof sy my nie eintlik baie goed ken nie. Doodstil gesit. Net geantwoord as ek haar iets sou vra. My nie aangespreek as “Juffrou” of as “Mamma” nie. Haar huiswerk getrou gedoen en nooit in die moeilikheid beland nie. Sou sy per toeval opkyk na my, was daar iets soos ‘n geheim tussen ons en ek het net een versugting: “Ag man Mamma, ek wens jy was liewers nie my Juffrou nie!” in haar mooi bruin oë gelees.

My tweede telgie het dit erger beleef. Ek was haar klasonderwyser in haar Standerd 2-jaar. (Vandag se Graad 4) As sy nie Mamma-aandag gekry het gedurende ‘n gewone klasperiode nie, het sy dit sommer self gevat. Wanneer die pouseklok lui, het sy bo-op my stoel gaan staan terwyl al die klasmaats tydsaam uitstap. Aan hul grootoogkyke het sy haar min gesteur. Dan het sy haar arms om my nek geslaan, haar kinderlyfie teen my myne vasgenestel en voor almal wat kon hoor, aangekondig: “My liefste ou Mammatjie!”

Ek het my uiterste bes gedoen om nie ‘n vreeslike emosionele reaksie te wys nie, wetende wat die gevolge daarvan sou wees. 'n Hele paar groot kinderoë het ons half-agterdogtig aangekyk.

Hoe meer ek tuis aan haar verduidelik het dat sy tog nie so moet maak voor die ander kinders nie aangesien ek in die skool haar JUFFROU is, hoe minder het sy dit verstaan. Haar liefdevolle negejarige hartjie was soos ‘n dam wat oorloop, daar was geen keer nie. Aan die einde van die jaar as dit prysuitdeling was, was dit eers ‘n tameletjie. Ek het so objektief moontlik probeer beoordeel, maar maklik was dit beslis nie.

My jongste twee lammertjies, ‘n seuntjie-en-dogtertjie tweeling, het deur die genade net één kwartaal by hulle Juffrou-Mamma skoolgegaan. Teen dié tyd het ek besef ‘n Ma wat eie bloed voor haar het, is een van twee mense: óf te kwaai, óf te vriendelik. Maar reg? Nooit.

In my tweeling se geval was ek na my eie mening heeltemal te kwaai. Miskien omdat daar twee was. En miskien ook omdat die totale leerlingtal van my klas net agttien was. Dit was in hul Standerd Een-jaar (Graad 3). Ek moes net bontstaan tussen al die snipsnaters wat “nuus aandra” oor my spruite.
“Juffrououou, Wilhelm doen dit!”
“Juffrououou, Liesl doen dat!”
Ek dink al sestien die ander kleingoed moes ernstig bedreig gevoel het oor Juffrou se baie kinders in dié klaskamer  teenwoordig.

Toe maak ek maar ‘n plan. Ek stuur hulle twee om iets in die kantoor te gaan haal. Intussen verduidelik ek aan die sestien oorblewenes hoe dit werk in ‘n skool, hoe dit werk met ‘n Juffrou en haar leerlinge en hoe dit werk in ons almal se harte.

Tuis het ek aan my tweelinkies mooi verduidelik wat, hoekom en waar. Ek het hulle ook gevra of hulle maar in die klas vir my “Juffrou” sal noem ter wille van die vrede. En miskien ‘n bietjie afstand. Ons het mos geweet hoe ons regtig voel.

Wat egter altyd baie lekker was, was dat ek heeldag by my kinders kon wees. Ek kon deel in hul prestasies, hul vordering, hulle hele skoollewe. Dit was ook altyd baie maklik om die vier raak te sien in ‘n saal vol kinders, want twee van hulle het rooikoppe. Die twee bruinkoppies was gewoonlik nie te ver daarvandaan nie.

17 December 2013

Racheltjie de Beer


Foto vanaf Mieliestronk

Sy was deel van die Graad Een sillabus en ons moes dié geskiedenis so lewensgetrou as moontlik oordra. Dit was aan die beginjare van skoolhou. Ek was vol ywer en baie entoesiasties. Storievertel was een van my gunsteling bedrywighede. Om dié ware verhaal met smaak oor te dra, was dus pure genot.

‘n Klas vol Graad Eens het voor my gesit, al luisterende. Ek het hulle volle aandag gehad. Klasatmosfeer sou ‘n gawe punt by enige dosent kon verdien met dié les.

Ernstig en oortuigend het ek vertel van die dapper dogtertjie wat in die sneeu verdwaal het terwyl sy en haar boetie help skapies soek het.  Hoe ysig koud dit was en hoe alleen sy gevoel het in ‘n sneeubedekte, spierwit wêreld waar alles dieselfde lyk.  Hoe sy en Kleinboet onbewustelik al in die rondte gedwaal het, al kouer en kouer geword het. Naderhand half verkluim skuiling gaan soek het in ‘n uitgeholde miershoop op die sneeuwit veld.

Toe ek by dié deel kom waar Racheltjie haar kleertjies uittrek om haar boetie daarmee warmer te laat voel, het ‘n paar dogtertjies voor my begin snik en traantjies afvee.  Ek het voortborduur, myself ook in die hartseer ingepraat.  Geheel en al ingeleef in dié ware verhaal van jare gelede.

Die ergste het nog voorgelê. Met boetie toegewikkel in sussie se klere en sussie bibberend teen hom aan, die tweetjies alléén in die koue, donker nag en ‘n Pappa wat met die hulp van ‘n paar werkers vergeefs by lanternlig soek en soek na sy kinders, was feitlik my hele Graad Een-klas in trane.  Juffrou moes maar deurdruk en vasbyt. ‘n Mens kon ‘n speld hoor val in die klas. Bewegingloos het hulle voor my gesit, angstig wagtende om te hoor wat verder gebeur het.

Op daardie oomblik (waarom juis toe?) het my oog op ‘n tingerige seuntjie voor my geval. Hy was nie een van die knapste knapies in my kudde nie, inteendeel. Behalwe vir sy verstandelike agterstand, was hy ook maar baie armoedig gekleed. Op dié geskiedkundige dag het Andries bv. nie ‘n onderbroek aangehad nie.

So met my roerende vertelling saam, kyk ek af en merk dit op. Die onderbroek ontbreek.  Ek stoei voort met die hartseerste deel van Rachel-in-die-sneeu. Andries se dun, opgetrekte beentjies, die nog dunner armpies styf om sy kniekoppe vasgeklem, sy bleek gesiggie die ene konsentrasie reg voor my in afwagting.

Sy oë was groot en vol trane, sy ou mondjie halfpad oop en die onderlip onbeheersd aan’t bewe.  By sy broekspyp uit hang die dunste en slapste klein tottermannetjie wat ek in my hele lewe gesien het. 'n Bleekpienk erdwurmpie.  Saam met die bewende onderlip maak dit ‘n droewige prentjie wat ek vir ewig sou onthou.

Verseker was dit dié tydstip in my ganse skoolhoulewe waarop dit die moeilikste was om NIE te lag nie.

Met die allergrootste selfbeheersing het ek aangegaan tot daar waar Rachel as ‘n volk se heldin, ‘n voorbeeld van dapperheid en naasteliefde kon voorleef in my Graad Eens se gedagtes. ‘n Verhaal om altyd te onthou en eendag aan hul kinders te vertel.

Dat hul Juffrou dié dag om ‘n heeltemal ander rede sou onthou, het hulle gelukkig nooit geweet nie. 

12 December 2013

Die wisseltand


Hy het dié oggend skool toe gekom met ‘n plastiek sakkie in sy hand. Daar was ‘n tand en ‘n 50c in. Toe hy my sien, het hy die 50c trots in die lug gehou en jubelend uitgeroep: “Kyk my geld, die muis het dit vir my gebring!”  Sy oë was blink en baie bruin.  Die taai mondjie het van vreugde gelag.
“Dis gaaf. Is daar dan muise in die koshuis?” het ek belangstellend gevra.

“Ja, ‘n muis het dit vir my gebring, ‘n regte, groot koshuismuis!”

“Is nie, dis Meneer wat dit gegee het, man!” het ‘n ander koshuisbrakkie uitgeroep.  Hy was duidelik lankal by die tandmuis-stadium verby.  “Hoekom het jy dan nog die tand?” het hy leedvermakerig gevra.

“Die muis het gesê hy sal weer kom, wêêêê tog!” Hy het sy tong so ver as hy kan vir sy slim maat uitgesteek. Toe het hy na my gekyk. Groot droefenis oor geheel sy gevreetjie. “Is mos ‘n muis né?” en na sy opponent se kant toe: “Jy is net simpel, hoor jy!”

Ek het besef ek moet ingryp. “Bêre die sakkie binne-in jou tas hoor.”  Hy het nie geluister nie. Ek het nie opgelet nie. Daar was twaalf ander Graad Eens wat ook elkeen sy stukkie aandag wou hê. Nà ‘n ruk merk ek op dat hy steeds die sakkie styf vasklem in sy een hand.

Wie luister nou ook na so ‘n opdrag as dit jou enigste aardse besitting is wat vreugde verskaf?  Wie luister as jy maar net sewe is en in die koshuis is. Wie luister as jou pa en ma ver is en boonop uitmekaar is. Wie luister dan?

Hy het die 50c voor hom op sy tafel neergesit. Hy het kort-kort daarna geloer terwyl hy sy somme met halwe aandag gedoen het.  Die tand het hy in sy broeksak vasgehou met die hand wat nie skryf nie.

Dit was toe ons op die mat sit en prentjies uitknip, dat hy ewe skielik vervaard opspring en na sy tafel toe storm. Die 50c was weg.

Luidkeels het hy losgebars: “My geld is weg, my geld is weg!” Die trane het oor sy wange gestroom.

‘n Hele kwartaal van maklik huil is agter die rug. ‘n Hele kwartaal waarin ek hom ge-mamma en geliefie het,  is reeds verby. ‘n Hele kwartaal waarin ek hom ‘n paar maal by my huis laat kom kuier het om die huil sodoende te laat opdroog. ‘n Kwartaal waarin ek soms hard gepraat het, getroos het, geduldig en ook ongeduldig was.  Dis verby.  Maar sy huil het bly vasklou.  My simpatie was dus maar yl toe ek gevoelloos sê: “Jy wou mos nie na my luister nie!”

As ek gedink het dìt gaan sy jeremiade stopsit, het ek ‘n fout gemaak. Hy het harder as ooit sy hartseer en weemoed oor die aarde uitgegil en net daar besluit om na sy geld te begin soek. “Ek gaan in al die stoelsakkies kyk!” het hy geskree. “Kyk dan!” het ek moedeloos teruggeskree. Totaal onprofessioneel en onopvoedkundig.

Terwyl hy die blou sakkies wat aan die stoeltjies hang, gefynkam het, het sy jammerklagte luidkeels opgeklink. “Boehoe, boehoeoeoe!” Toe hy niks kon kry nie, het hy uitdagend aangekondig: “Nou gaan ek in die tasse soek!” 

Hy het een vir een tas oopgepluk en verbete begin krap. Ek het hom laat begaan.  Die res van die klas het hom grootoog aangekyk. Nie seker wat hulle te doen staan nie.

Toe dit amper pouse was, het ons uitgegaan om derdemannetjie te speel. Sy droefheid was vir ‘n oomblik vergete. Net vir ‘n oomblik.

Skielik het hy op sy knieë neergesak en huilend, trooteloos uitgejammer: “Nou is alles weg. My tand is weg, my geld is weg!” Sy gesiggie was nat van die trane. Sy neus het getap. Sy mond was taai. Deur die trane heen, het hy stip na die gras voor hom gekyk. Iewers moes ‘n klein, wit melktandjie wees.

Ek het hom jammer gekry en een van die ander seuns gevra om hom te help soek. Toe het ek gaan tee drink.

Terug in die klas, stamp iemand (opsetlik?) ons huilbalie se potlode van die tafel af. Onnodig om te sê, bars hy weer uit in sy weemoedige huil-skree. Ek het voor hom gaan sit. “Sê vir my, gaan jy die hele jaar in die koshuis bly? Gaan jou ma jou nie uithaal en in ‘n ander skool sit nie?” het ek oënskynlik kalm en rustig gevra.

Sy trane het skielik opgedroog.  Met ‘n astrantheid wat gladnie by sy tranedal van vroeër pas nie, het hy vies vir my gesê: “Nou is Juffrou ook moeg vir my.”
“Nie vir jou nie. Ek is moeg vir jou gehuil.” Hy het stilgebly. Salig.

Toe ek die middag na my kar stap, leeggetap en bly dis naweek, lê die 50c blink voor my in die middagson op die gras. Sal ek dit hou of moet ek dit ver, ver weggooi?

Toe Maandag kom, bêre ek die geld in my laai met die woorde: “As jy vandag nie een keer huil nie, kan jy dit kry as dit huistoetyd is.” Hy was so soet soos ‘n droom.

Toe kry ek ‘n ietwat bose plan: “Kom ons bêre jou 50c tot Donderdag as dit koekverkoping is.”  Dit sou nog drie hele dae van vrede in my klas beteken. Sagte, wonderlike vrede. “Oukei,” het hy ewe inskiklik gesê. Die 50c was nie meer net ‘n gewone geldstuk nie, dit het ‘n baie doeltreffende afpersmiddel geword.

Toe Donderdag aanbreek het hy sy geld gekry. Sy oë het gestraal toe hy ‘n heerlike skyf  koek kon gaan koop. Syne alleen.

Teen dié tyd was hy al gewoond om nie meer so maklik te huil nie. Vrydag het gekom en gegaan sonder een enkele traan. Sy swart ogies het geblink toe hy saam met die ander vir my koorsing: “Totsieiens Juffrou, totsieieiens maatjies!”  En ek het 'n klein bietjie meer van liefde verstaan.

11 December 2013

My kosbaarste brief


 
Ek het ‘n paar woelige seuntjies in my klas gehad. Eendag is drie van die bedrywigstes besig om mekaar te stoot en te stamp. Ek roep hulle toe nader en een van hulle begin droewig huil. “Askies juffrou, askies!” Die ander een begin verduidelik: "Juffrou, ons sal weer vriende word." Die derde outjie staar mistroostig voor hom uit.

My sagte moederhart kon dìt nie hanteer nie en ek kry toe ‘n plan. “As julle elkeen vir my ‘n baie mooi sin op die kaartjie skryf, sal ek julle nie kantoor toe vat nie. Maar dit moet ‘n mooi sin wees!” Hulle het toe so pas die stadium van ek-kan-‘n-sin-skryf bereik.

Ewe bly gryp drie seunshandjies elk ‘n kaartjie en begin ywerig skryf. Nà ‘n paar minute gee die stoutste van die drie sy kaartjie aan my met ‘n selftevrede glimlag. In kinderletters staan daar, duidelik, swart op wit: Vir geewi my sondi asiblief Jfou

***

Nog ‘n briefie wat my ook vas teen die hart lê en wat ek nie kan weggooi nie, was van ‘n mooie, klein witkopdogtertjie wat net begin skryf het, natuurlik presies net soos wat sy gepraat het:
Liewijvrik is soo liev vir jifrou. Ek wil nie hedat jifrou mt wegaan nie. Levti Tonya.
Oral op die papier was uitgeknipte blommetjies met die grootste sorg vasgeplak deur klein handjies.

***

Dit was winterkoud en my hande wou dié oggend nie warm word nie. “Voel hoe koud is Juffrou se hande, “ het ek gesê en met altwee my hande om hul dierbare ou Graad Een-gevreetjies gevat.
“Sjoe, Juffrou!” sê André.
“Ek wil ook voel,” sê Louis, “en ek....en ek!” koor almal agterna.

Skielik spring Herman op en druk ‘n briefie in my hand.
“Ek is lief vir Juffrou.”
“Oe, lekker, iemand is lief vir my,” sê ek en druk die briefie hier voor by my bors in, min of meer daar waar ander mense hul geld bêre.

“Ek gaan hierdie briefie heeldag hier teen my hart hou hoor Herman,” sê ek. Sy oë straal. Hy blom behoorlik.
“Ja en dan kan dit Juffrou sommer lekker warm maak,” sê Liana ewe slim. Sy het op hierdie vroeë ouderdom alreeds goed geweet hoe die liefde werk.

10 December 2013

Om Juffrou te wees.




Dit moet in 'n mens se bloed wees: die vreugde van onderrig gee. Die bevrediging en algehele lekkerte van te weet hoe om iemand anders te kan leer, te kan help, aan te hou probeer tot hy verstaan.

Soms is dié verstaanproses blitsvinnig en natuurlik gee dit vir enige onderwyser die grootste lekkerkry. Soms is dit stadig, maar op ‘n dag blom die droë woestynplantjie wel en dan is die blydskap soveel groter.

Saam met die leerproses loop die leer-mekaar-ken. Kind en onderwyser, onderwyser en kind. Leer mekaar se maniere, mekaar se streke, mekaar se lief en leed, groot stukke van mekaar se lewe. Soms groei mens só vas aan die kinders in jou klas en onthou jy hulle vir jare en jare daarna.

Vir hulle sal jy altyd maar “Juffrou” bly. Êrens op ‘n dag kom staan ‘n volwasse, mooie man met lagplooitjies langs sy oë en om sy mondhoeke voor jou en vra met ‘n diep stem: “Onthou Juffrou my nog?” Natuurlik sal jy hom onthou. Hy was dan die punt van jou hart in die beginjare van skoolgee.

Sou jy tussen ander nasies en tale beland, is die aanpassing groter, die leer-mekaar-ken baie tydsamer, wyer. L a n g s a m e r h a n d . Tòg is en bly kinders maar kinders. Of jy nou hul “Juffrou” of hul “Mêm” is. Die oordra van kennis bly ‘n onuitputlike bron van vreugde, want daar is sò baie om te leer. Die wêreld is nuut, oop en so vreeslik lekker.

Elke dag verander in ’n begeleide toer aan die hand van die onderwyser wat voor so ‘n klas kom staan. Elke dag word ‘n splinternuwe reis na nuwe ontdekkings.

Dis nie net leer hoe om ‘n ordentlike nege of agt of sewe te maak nie. Dis leer van omgee, van respek, van maniere. Dis leer om mens te wees. Dis ook nie net die onderwyser wat die kind leer nie. Dit is baie dikwels ook andersom.

Die dae is te kort en die ure vlieg vinnig verby, want alles, ja alles wat ons doen is splinternuut en wonderlik-lekker veral as ons eers besef waaroor dit werklik gaan.

Mag almal wat onderrig gee steeds vreugde put uit dié dinge waaroor mens nie vergaderings hoef by te woon of notules en verslae hoef te skryf of boek oor te hou nie. Dié ding wat ons doodgewoon maar net liefde noem.

En sênou ...


 
Dit was ons gewoonte om aan die einde van die dag storietyd te hê. Dit was 'n salige, rustige tyd en almal het dit geniet. Wààr op aarde is daar 'n kind wat nie 'n storie wil hoor nie?

Tydens hierdie storiesessies het die kleingoed hulself dikwels totaal vergeet. Hulle het aan my lippe gehang. Elke woord ingedrink en hulself geheel en al ingeleef in die heerlike stories. Dit het nie saak gemaak of ek dit voorgelees het en of ek dit vertel het nie. Ek het dikwels stories uit my duim gesuig. Vir hulle het dit geen verskil gemaak nie. 'n Storie is en bly 'n lekker ding.
Saam met die self-vergeet het hulle ook soms hul maniere vergeet en glipse gekry. Dan was dit in die hele klaskamer sommer uiters onwelriekend. Een of twee van hulle, veral die dogtertjies, sou dan met groot verontwaardiging hul handjie voor hul neus vinnig heen en weer waai om sò te beduie dat dit nou nie juis aangenaam ruik in die onmiddellike omgewing nie. Nà 'n rukkie het diesulkes maar weer met oorgawe geluister. Onwelkome reuke totaal vergete.

Op 'n dag, terwyl ek storielees, het iemand egter heeltemal oorboord gegaan. Stink winde was erger as ooit voorheen. Ek het met moeite aanhou lees, maar dit was bitter onaangenaam. Oral het wuiwende handjies voor neuse verskyn en niemand het of kon meer luister nie.

Ek het Jacques, 'n koshuisseuntjie, verdink en hom dadelik badkamer toe gestuur. Ek was tog op dié stadium nie lus vir str..ooi nie. So met die uitstap en omdat ek vermoed het dis dalk erger as wat ons dink, sê ek vir hom:"Kyk tog of alles reg is in jou broek!"

Nét daar roep Peet onbeskroomd uit: "En as daar…... kak in is?!"

Die res van die klas was al slim genoeg om uit te bars van die lag en ek het self met moeite my lag bedwing en terselfdertyd besef Peet is toe gladnie so stadig van begrip as wat ons almal gedink het nie.

9 December 2013

Die plêstiek glimlag.


Hulle is onder sewe, hulle is in Graad Een, hulle is ramkatte. Tagtig seuntjies, genaamkaart en gereed vir die opwindende dag. In rye sit hulle: Duikers, Steenbokke, Ribbokke.
"Juffrou, my speld het verloor!"
"Juffrou, my naam het afgeval!"
"Juffrou, kan ek net gou na my Ma toe gaan?"
"Juffrou, wanneer hardloop ons?"

Die predikant wat die sonskyndag met skriflesing en gebed moet open, lees: "Ek span my in om by die wenstreep te kom." Daar is wenstrepe en wenstrepe. Vandag gaan ek my inspan soos nog nooit voorheen nie. 'n Helder son hang oor die nuwe Suid-Afrika en die nuwe Graad Eens. Vandag moet ons die wenstreep haal.

"Juffrou, hier's my geld!"
"Juffrou, ek is dors!"

Bruin beursies, bont beursies, blou beursies, rugsakke, drasakke, handsakke, alles in Juffrou se groot sak. "Help my dra?" Gewillige ouers word ingespan.

In drie netjiese rye stap ons tot daar waar die naellope begin. Ek pak die seuntjies een vir een reg in sy baan. O gits, hulle het nog hoede op. Ek pluk hoede en pette van sewejaar-oud koppies af, armsvol daarvan, prop dit bo-op duisend beursies in die groot sak en snel so vinnig as wat my amper halfeeu-oue bene my kan dra na die wenpaal toe om punte te gaan opskryf.

Hier kom hulle al. Die eerste kind kry vier punte, die tweede drie, die derde twee en die vierde een punt. Kophou is die antwoord, nou moet 'n Juffrou sterk staan. Hoekom is hierdie name so dof? Waar is my leesbril?

"Juffrou, wanneer kan ek my geld kry?" vra 'n dun stemmetjie hier van agter af. "Nee wag nou eers, my lam, ons sal nou-nou begin geld uitdeel." Waar is die sak met die beursies? Ag, dit lê nog doer ver by die wegspringplek.  My oog vang drie gewillige Mammas wat ons op ons veeleisende "toer" vergesel. Telepatie.  Die ouer-onderwyserverhouding blom.  Met wye glimlagte bring hulle al ons sakke nader terwyl ek my tagtig manne na 'n koeltekol vergesel.

"Wie skree nou so?"
"Ek wil my Maaaaaa hê!" kom dit luidkeels van êrens uit die warm bondel rooiwangseuntjies. Snotentrane. "Ag!"  Vireers ignoreer ek hom en begin beursies uitdeel. Almal gaan Snoepie toe en Juffrou wag geduldig onder die boom.

Met handjies vol koeldrank en lekkers en plastiek tande kom hulle blinkoog terug.  Aaklige, goudgeel, plastiek tande wat gewone seuns in brullende leeus verander. "Whaaaaauuuuu!" brul hulle vir mekaar en val mekaar bloeddorstig aan.  Miskien, baie miskien, vreet hulle mekaar dalk op.

Ons gaan gooi krieketbal en hulle geniet dit. Oor tien minute is dit die 60m finaal.

"Juffrou, my hoed is weg!"
"Juffrou, gaan ons weer hol?"
"Juffrou, hy stamp my!"

Die finaliste moet aantree."Wie is jy? Nee, jy moenie nou hardloop nie."
Ek lees gou weer die name. Dan spoed ek wenpaal toe om te kyk wie is eerste, tweede, derde, vierde. Het ek iemand hoor hande klap?  'n Bondeltjie ouers waak oor my bloedjies wat nie nou moet hardloop nie. Dankie, julle kan later jul medaljes persoonlik by my kom haal.

Klein George Tossel is die wenner. "Jou doring, Juffrou se bulperd!"  Ek skryf punte by. Nou nog net die slingerbal. Ek slinger al.  Die son bak.  "Juffrou, kan ek kamerverlaat toe gaan?" vra 'n benoude, dun stemmetjie.
"As jy nou loop, is jy weg, my engel."  Hy sit. En ek dra die gevolge.
"My kind het in sy broek gebollie. Dis jou skuld, " sê 'n ongelukkige moeder.

Plastiek-tanne-innie-mond slinger hulle die bal bo-oor, onderdeur, skuins verby, reguit-hemel-toe, vorentoe, agtertoe, deur die gat.  'n Vloekskoot, hoerê!  "Jy's 'n kampioen, my kind!"

Teen 12 uur is ons klaar.
"Kan ek hom maar vat?" vra 'n angstige ouer.
"Asseblief!"

Toe ek by die koeltebome uitkom en plat op die gras gaan sit om die punte horisontaal en vertikaal op te tel, is my taaibek, songebruinde seuntjies aansienlik minder.  'n Groot dankie-bly vou sy arms om my moeë skouers. Ons hét toe die wenstreep gehaal.

Die byeenkoms is verby.  Almal stap huis toe.  Sy blou oë kyk op na my: "Juffrou, mag ek nou kamerverlaat toe gaan?"  Met die wegstap, draai hy vir oulaas om en gee my 'n wye glimlag: "Juffrouou, kyk my tanne!"

8 December 2013

Baie spesiaal

 

Iewers tussen al die jare van skoolhou deur, moes ek op 'n keer of meer vir die Spesiale Klas skoolhou. Eindelose geduld en emmers vol liefde was daagliks nodig om dié kinders te help, te leer en te lei. Tóg het die Juffrou ook baie by hulle geleer. Aanvaarding was verseker bo-aan die lys.

"Juffrou, k…k…kan juffrou, Juffrou se ore beweeg?" vra 'n elfjarige blou-oogseunskind my op 'n dag en hy demonstreer dié ongewone vaardigheid met groot selfvertroue. Sy mond is vuil en skurf van die koue winterlug en van verwaarlosing.

Nà 'n pouse en 'n draai by die Snoepie steek hy sy tong ver uit, potblou van 'n suiglekker wat hy gekoop het: "Juffrou, k…k… kan ek my mond gaan was?" Toe hy terugkom, kom staan hy voor my, steek sy tong weer so ver as moontlik uit: "Juffrou, k..k…kyk nou, dis nou skoon!"

"Juffrou, wat is die vinnigste ding in die wêreld?"
"Weet nie?"
"'n Poep, Juffrou, want hy gaan dwarsdeur jou broek sonder om 'n gaatjie te maak!"


Hulle was sonder enige pretensie, sonder skroom en inhibisies. Hulle was ook baie ontvanklik vir allerlei invloede. As 'n Juffrou haastig is in so 'n klas, soek sy groot moeilikheid.

Soggens het ons saam gebid dat ons geduld moes hê vir elke dag. Aan die einde van 'n skooldag (wat soms eindeloos gevoel het), het ons dankbaar gebid vir die vreugde van huistoegaan. Hulle was bly dat hulle uit die benoudheid van vier mure kon ontsnap en ek was heeltemal leeggetap.

Met vuil hande en skoene wat bo in bome vassit en taai monde het hulle my nà 'n pouse ingewag. As die hande gewas is en die mondjies weer skoon was en ek na 'n redelike tyd dit kon regkry om hulle tot bedaring te bring, het ek uiters suksesvol gevoel. Net om weer amper moedeloos te raak as een van hulle sy werk so vinnig aframmel as wat hy kan, slordig en sonder sorg, traak-my-nie-agtig sy boek voor my swaai en jubelend aankondig: "Ek is tog eerste klaa-aar!"

Aan die einde van die jaar was ander Juffrouens se tafels oorlaai met geskenke. Die Juffrou van die Spesiale Klas het ander soort geskenke gekry. Toegedraai in bruin papier, 'n horlosie wat nie meer werk nie, 'n blink borsspeld wat duidelik uit hul ma se laai gegaps is of 'n toebroodjie met "sênwichs-sprêd" op. As jy baie gelukkig is, 'n pen wat by die "faaiv-rênd-sjop" gekoop is. Alles moes Juffrou ewe bly maak en sy het baie mooi dankie gesê. Haar ware geskenke was die blink oë en afwagting op die gesiggies voor haar terwyl sy die pakkies oopgemaak het.

Die weerloosheid van hierdie kinders het my elke dag klein laat voel. Hulle was afhanklik van elke bietjie liefde en aandag. Vir my was hulle opregtheid genoeg. Deur die genade het ek elke dag êrens vandaan krag en entoesiasme gekry om ook hulle wêreld 'n beter plek te probeer maak.

"Kom ons maak ons klas mooi en verf bietjie vandag," het ek op 'n windvaal oggend aangekondig toe alles net weer wil-wil lyk na doodgaan-tussen-die-distels.
"Jippppieieie! Juffrou is lekker! Juffrou is die lekkerste Juffrou!" gil hulle dit uit, lewensbly.

En as ons aan die einde van die dag blougestreep en rooigekol huis toe gaan en die volgende dag wéér worstel met ag-ek-kan-nie-verstaan-deelsomme en hoofletters en spelfoute, dan loer ons maar kort-kort na ons kleurvolle skeppings wat ons self geverf het teen die klaskamermuur.

Die wete dat daar êrens 'n plekkie in die son vir elkeen van hulle vorentoe wag, want Juffrou sê mos so, was hul grootste troos op aarde.

7 December 2013

My skoenlys is los


Sy oë is groot en grysgroen en sy handjies moedeloos gevroetel aan die skoenveter. Nuwe skoolskoene, nuwe skooldrag, nuwe klein, bruin tassie-met-‘n-kosblik-in. Om hom nuwe kinders en voor hom ‘n vreemde tannie wat hy “Juffrou” moet noem.

Alles is nuut. Nuut en vreeslik vreemd. Dis sy eerste dag in Graad Een. Onder, onder aan die lang leer met die baie trappies wat hy nog moet klim. En hy sal dit klim. Hy sal dit klim met sy nuwe skoene, al is sy veter los.

Só het my eerste dag van skoolhou begin. Saam met die grysgroen oë was daar nog nege-en-twintig pare oë wat my vraend, onseker en wanneer-kom-my-ma aangekyk het. Ek het hulle net daar liefgekry. Ek het nie geweet waar hulle woon of wie hulle is nie. Ek was hulle Juffrou en hulle was my heel eerste leerlinge.

In die kinderoë voor my het ek iets gesien wat ek nog nie voorheen beleef het nie. Afhanklikheid. Die meisietjie wat drie jaar op kollege was om te leer van kinders en van skoolhou het meteens besef: “Ek weet niks!”

Ek het by die tafel gaan sit, hulle name gevra. Iemand het ‘n grondboontjiebotterbroodjie vir my daar neergesit. Ek het sommer skielik na my Ma se kombuis verlang. Daar waar ek 'n kind was.

Op die papier voor my het nuwe name geskryf gestaan:
Bezuidenhoudt, Barend
Botha, Aletta
Jacobs, Marinda
....en nog ‘n string name, dertig klein mensies.
Die klok het gelui.

Ek het dan nog niks gedoen nie. Die blou stoeltjies het gedreun en die kleingoed het deur toe gebondel. Dis speeltyd. Juffrou het so gesê.

Die klaskamersleutel het alreeds in die slot gedraai en ek was op pad personeelkamer toe, toe ‘n blou-oog dogtertjie voor my kom staan: “Reefrou, hier’s vi’ Reefrou ‘n vetkoek!” Ek het dit dankbaar by haar gevat en die stroop tussen my vingers afgelek.

Terug in die klas het ons klei gespeel en ek het bietjie meer van hulle te wete gekom: Barend het groot, bruin oë. Aletta loer soos ‘n oumensie deur haar dik brilglase. Kobus se hare krul en Frederik het bloedrooi appelwange. Yzel was die langste in die klas, ‘n skamerige, donkerkoppie met ‘n sagte glimlag. En natuurlik Frans. Frans met die los veter. Teen dié tyd was sy skoenveter stewig vasgestrik, maar sy grysgroen oë wou my nie los nie. Ek het met my hand oor sy ligbruin hare gestreel en êrens vandaan ‘n dosent se stem hoor sê: “Julle mag nooit witbroodjies hê nie.” Hulle het niks gesê van ligstrale nie, het hulle?

Toe die klok lui vir die kleintjies om “uit te kom”, het hulle nie gebondel nie, maar ewe netjies ‘n treintjie gemaak en “toet-toet” huistoe gestoom, doodgelukkig. Ek het hulle agterna gekyk, my tas gevat en aangestap koshuis toe waar al ons nuwes loseer het. Die eerste dag was verby.

My hand het gebewe toe ek die kamerdeur se knop raakvat. Langs my bed het ‘n pot vol kleurvolle blomme gestaan. Skielik was daar ‘n knop in my keel en trane in my oë.
“Welkom by ons Juffrou,” het op die kaartjie gestaan.

Die koshuisbed het gekraak toe ek daarop gaan sit. In my hart was daar ‘n vreemde lekker. Nou is ek ‘n grootmens. Onafhanklik. Opgewonde oor dit wat wag.

In my in my gedagtes het ek dertig paar ogies gesien. Dertig gesiggies vol afwagting. In die gang het iemand luidkeels gelag, die etensklok het gelui en ‘n motor het in die straat verbygedreun.
“Ek is ‘n Juffrou!”

Of was ek toe maar nog net ‘n “Reefrou?”

Kosbare herinneringe


Ek was twintig toe ek begin skoolhou het, self nog eintlik maar 'n kind. Gelukkig was die kinders voor my in Graad Een en het hulle alles wat ek met die wysheid van 'n twintigjarige aan hulle sou verkondig, geglo en my aanbid, soos net 'n Graad Eentjie kan. Dit is die wonderlikste van die onderwys: daar is altyd iemand wat dink JY is WONDERLIK!

Dié wete het my menige dag deur menige moeilikhede gedra. Dis lekker om nodig te voel, dis lekkerder om bewonder te word en opregte liefde te ervaar, onvoorwaardelik, mooi soos die stralende, skoon kindergesiggies wat voor my gesit het vir baie jare op baie verskillende plekke.





Ek moes dikwels speletjies uitdink om hulle mee te vermaak en stil te hou. Gou het ek geleer dat 'n besige kind 'n soet kind is. So het dit gebeur dat ek 'n kind se naam sou sê terwyl ek boeke uitdeel en hulle dan die van uitroep, bv.
Ek: "Willem!"
Klas: "McSeveney!"
Ek: "Riana!"
Klas: "Rademan!"
Ek: "Koos!"
Frans: "VAN DER MERWE!" (Sy regte van was Smith.)



Een donker aand in my haas om by die telefoonhokkie en my ver-kêrel se stem uit te kom, hol ek teen die glasdeur vas en kry 'n yslike sny onder my oog. Vyf steke daarna en opgeswel, lyk ek toe vreeslik lelik vir myself. Om die kleingoed dié "gruwelike gesig" te spaar, sit ek toe maar 'n donkerbril op skool toe. Dit het beter gelyk na my mening, maar toe ek die bril op 'n keer afhaal, roep almal uit; "Nou lyk Juffrou weer mooi!" Onvoorwaardelike aanvaarding op sy beste, pimpelpers oog ten spyt. Louisa se ma het my persoonlik kom sê dat Louisa haar "dik gehuil" het omdat haar Juffrou so seer gekry het.



Andrew was die kleinste ou seuntjie, jonger ook as die ander. Een Maandag kondig hy selfversekerd aan: "My Ma het gesê die nurste kom vandag!"  Toe hulle 'n rukkie later nadat die "nurste" hulle onder hande gehad het, terugkom in die klas, reken hy ewe trots: "Ek het 'n klein piepie gehad…" Nou hoe dan nou anders?!

André het die rympie wat ek vir hulle geleer het, sy eie variasie gegee:
"Jan Tiek, Jan Tak,
Jan Hawersak,
Jan Vinger-in-die-mond,
Jan Pêrrestront"
Bloedrooi word hy toe hy besef in die skool sê mens: "Jan Suikerklont" op die einde.



"Frederik, gaan was jou hande, jy maak jou boek vol vuil kolle."
Inus: "Hy kom so vuil skooltoe, hy het nog sy mijamas aan."

Maak 'n sin met VOEL… Ek voel vandag lekker, ek voel met my hande…
Frans: "Of mens kan sê jy is 'n VOEL."

"Waar is Jesus gebore?"
"In die TRIP."

"Wat het die skinker gedroom?"
"Hy droom daar is drie bottels brandy, nee….bier!"



Klikbekkies was daar baie: "Juffrou, Juffrou, hulle vou alweer djeddens!" (Papiergevoude jetvliegtuie het deur die lug getrek) "Juffrou, hy vat my draaiwaai!" ( Engels: dry-whipe, 'n pen vir 'n wit bordjie) en "Juffrou, Johantjie sê nottehel!"

'n Gereelde briefie van Louisa se ma op 'n Woensdag wanneer ons swemperiodes gehad het: " Louisa mag nie swem nie, want sy kan nie swem nie."
Was dit nou nie 'n uitstekende rede nie.
 

Ons het versies geleer en lieflik opgesê. Dit was dan ook altyd goed om dit weer te herhaal, juis omdat daar soveel genot daarmee saamgegaan het. Ek het dus onbewustelik baie dikwels gesê: " Kom ons sê dit nog een maal vir oulaas."
Toe die hoof van die skool kort daarna by my klasdeur inloer, vra een van die snipsnaters: "Is dit OULAAS?"

6 December 2013

Psalm 23 op sy beste



Personeel van Laerskool Levubu - 1986

By een van die vele skole waar ek geswoeg en gesweet het, (letterlik en figuurlik) is daar gereeld 'n NOODPLAN geoefen sodat almal paraat kon wees, sou ons dalk net oorval word deur watter vyand ookal. Vir die Graad Eens was die klok wat so kort-kort gelui het, kinders wat so gou moontlik platgeval het en 'n Juffrou wat angstig rondskarrel en onmiddellik alles neersit waarmee sy besig was, 'n taamlik skrikwekkende ervaring en het party van hulle baie benoud en beangs geraak ten tye van hierdie gereelde oefensessies.

Ek het maar altyd agterna probeer troos en verduidelik waarom ons dié oefening so belangrik ag en waarom ons dit so goed moet ken en so vinnig moet kan doen. Dié wonderlike trooswoorde het dan ook maar net gehelp tot die klok weer op 'n onverwagte oomblik sy skril drie-kort-luie-na-mekaar gelui het en die hele skool gedreun het soos die stoeltjies agtertoe geskuif word en kinders op moederaarde platval.

Op 'n dag, terwyl ons rustig besig was met "skoonskrif" , dun op en dik af, was dit wéér sulke tyd: "Triengng! Triengng! Triengng!"

"Dis noodplan!" roep 'n Wakker Akker in die klas vervaard uit en duik onder die eerste, beste stoeltjie in. Al die ander volg sy voorbeeld terstond en skuifel en skarrel om hul lê te kry. Ek kruip self ook onder my tafel in en probeer myself so klein as moontlik maak of sommer miskien dalk heeltemal onsigbaar. Doerie tyd was so-iets nog moontlik.

Doodstil lê ons en probeer amper nie eers asemhaal nie. Ek kan sommer hoor hoe benoud my ou klein mensies is en die groot ogies wat van oral vloerlangs vir my loer, wys duidelik dat die hartjies woes klop en dat hulle wens dié storie is liewer maar agter die rug.

Soos by alle oefeninge, is dit toe ook die geval. Nà 'n paar minute kon almal weer na hul sitplekke terugkeer, verlig dat dit net 'n oefening was.

Een outjie wat maar elke keer alles vreeslik ernstig opgeneem het, effens stadig van begrip was en sy woorde almal hard en duidelik uitgespreek het, kom staan styf teen my. Natgesweet en met bloedrooi wange en groot oë, sê hy ewe vertroulik met sy ou growwe seunsstemmetjie: "Juffrou, ek was bang! Toe ek daar onder my stoeltjie lê, sê ek net heeltyd vir myself: Die Jirre is my herder!"

Spitsvondighede.


Ek het hulle van die Skepping vertel, dat God ses dae geneem het om alles te maak en op die sewende dag het Hy gerus.
“Ons moet ook op Sondag rus,” sê ek. “Deesdae is die winkels mos oop op Sondae.”
“Hoekom?” vra enetjie.
“Om geld te maak!” sê ‘n ander een.
“Ja, en geld is nie alles nie!”kom dit uit ‘n derde snipstert se slim bekkie.

***

Ons vertel ‘n storie in die klas: “Eendag was daar.....”begin een en dan gaan die volgende ene aan en die volgende een. Toe dit by André kom, omtrent so tiende in die ry, sê hy ewe slim: “En toe was dit die einde van die storie!”

***

In die groentewinkel is daar tamaties, boontjies, ertjies en spioene. (sampioene)

***

Op die klimraam klim hulle tot hoog bo die aarde en daar van bo af roep Marnelle: “Juffrouou, is dit ‘n skande as die seuns ‘n mens se skilpadjie sien?”

***

“Eendag was daar drie skilpatte...”vertel Janie en ek help reg: “Skilpaaie”
Sy gaan aan: “Skilpaaie....en ook ‘n baba-skilpaai!”

***

Op ‘n ysige, snerpendkoue wintersdag nà ‘n lang vakansie van te veel eet, gee Herman met sy blouselblou oë vir my ‘n heerlike, hartverwarmde kompliment: “Juffrou, Juffrou! Ek weet wat is die mooiste aan Juffrou....Juffrou se lyf!”

***

Ek verduidelik iets op die bord. ‘n Foxterrierhond loop by ons klaskamerdeur verby.
“Totsiens!” sê ek vir hom.
“Jis, Juffrou is cool!” reken Matthew en sy oë blink van bewondering.

***

“Juffrou, hier lê sooooooooooo baie water onder Jan se stoel!”
Dit was toe nie water nie.

***

Ek leer my Graad Eens ‘n skrifpatroon: skuins op en skuins af. “Tik-tak, tik-tak,” sê ek soos ek dit skryf. Die volgende dag trek ek ‘n plooitjiesromp aan. Gert vryf daaroor met sy klein handjie.
“Ek sien juffrou het Juffrou se tik-takromp aan!”

***

“Ek het baie hard gewerk vir hierdie R15 om my wonder-kokith te koop: ek het die badkamer the vloer gewath, ek het die toilet the vloer gewath en ek het die kombuith the vloer gewath!” sê Gert trots.
“Jy ith ‘n man tho na my hart, my thkat!”

***

Ons skool gaan ‘n REVUE opvoer en die Graad Eens is ook deel daarvan.
“Weet Juffrou hoekom ek nie volpunte vir my spelling gekry het nie? Ek het tot in die nag geoefen om in die revue te dans!”
“As jy revue doen, moet jy ‘n lag op jou gesig maak!”
“Ons revuebroeke gaan kortmoubroeke wees!”

***

“Juffrou, Juffrou, ek het my glimlagmente geskeur terwyl ek gomlastiek gedoen het!” roep Daniël uit na ‘n liggaams-oefening periode.

***

Om die kleingoed aan te moedig, stuur ons hulle soms na ander juffrouens om te gaan spog met hul mooi werk. Op ‘n dag vra Louise of sy asseblief maar kan gaan skinder.

***

“Juffrou, ek HAAT alteliek, want ek kan nie hapoop nie!”
“Ag Anél, ek kon ook nooit hardloop nie!” troos ek.
Huppelend gaan sy na haar bank toe en sing: “Juffrou kan nie hapoop nie! Juffrou kan nie hapoop nie!”

***

Neelsie, een oggend, baie opgewonde: “Toe juffrou weggewasgewees het né.....”

***

Riaan vertel op ‘n dag vir my: “My Ma het altyd gesê sy soek ses kinders, maar nou is ek en my sussie klaar te stout, nou sê sy dis VOEL STOP!”

***

“Juffrou, my Ma was ook mos ‘n Juffrou. Ek wens Juffrou wil baie siek word, dan kan my ma in Juffrou se plek kom!”
(Hy was ten minste eerlik en ek het vanselfsprekend nie besonder gevlei gevoel nie. )

***

“Al my pypies is toe!” sê Annelie op ‘n dag. “Ek was by die fisio dat hulle al my slym afkap, maar hulle kry dit nie reg nie!”
Ai tog.

5 December 2013

Sy naam is Peet


Om van Peet te vertel, kan lank vertel word. Hy was uniek, 'n kind wat op sy eie ongekunstelde manier diep in my hart gekruip het om daar te bly vir altyd. Saam met my liefde vir hom, het ek ook 'n eindelose gevoel van beskerming en betrokkenheid by sy doen en late ontwikkel. Peet is al nou al uit die skool en ek lankal nie meer 'n jong Juffrou nie, maar sou ek hom van tyd tot tyd iewers in die dorp raakloop, sal ek steeds die deernis en toegeneentheid van destyds vir hom voel. Hy was nou maar eenmaal een van daardie kinders.

Peet se ouderdom vir Graad Een was reg, maar sy verstand het iewers vasgeskop. Iewers waar 'n kind nog baie sukkel om te praat, tussen begin-praat en kleuterpraat. Hy kon nie al die klanke suksesvol sê nie en volsinne was ver bo sy vuurmaakplek. Klanke wat hy wel geken het, het hy op verkeerde plekke ingespan. Vir hom was dit moeilik om te kommunikeer. Hy het hom egter nie veel daaraan gesteur nie en as hy iets wou sê, het hy met sy krummeltjie-woordeskat homself sonder skroom probeer verstaanbaar maak vir almal wat wou luister.

Sou hy bv. wou sê: "Juffrou, ek het my geld vergeet," het dit só geklink: "Jfoe, ek my selt seet!" Ek het later 'n oor vir Peet se spraak ontwikkel en deur die genade verstaan wat hy probeer sê as hy so sukkel-sukkel praat:
"Jfoe, kwil tolet toe han…"
"Haak wil my sat!' (Jacques wil my slaan)
"Jfoe, 'n kêppiejoen het my ma heteek!"
"Sit oppe kebas!"
"Jfoe, wane kan ek my tek vi Jfoe see?' (tjek gee)
"Ek het om lyne han!" (om die lyne gegaan)
"Ek it nie my potskele nie!" (ek het nie my sportklere nie)
"Moet ek die atte-ond ok inkeu?" (agtergrond ook inkleur)
"Fyt, fyt, my tolie is kaa!"
"Sy't my 'n tempel en 'n tel hegee!" ('n stempel en 'n ster)
"Ons hette tofeier!" (stofsuier)
"Hy't hips aan sy amme" (gips aan sy arms)
Een pouse raas die prefekte met Jacques. "En met ek!" vertel Peet met 'n glimlag, nie doodseker of mens trots of skaam daaroor moet voel nie.

Daar was egter één woord wat Peet perfek kon uitspreek. Ja, dit was die ou bekende wegjaagwoord in krasse taal: “F….!” In sy voorskooljare het hy dit daagliks gehoor en dit het so diep ingesink en deel van sy karige woordeskat geword dat hy nie eers besef het dis heel rof om so te praat nie, veral nie in 'n klaskamer en veral nie voor 'n Juffrou nie.

Hy het dié woord tydig en ontydig ingespan. Wanneer die kinders hom terg of treiter, het hy hulle daarmee gepeper. Male sonder tal. Klein soos hulle is, het die ander kinders natuurlik dié situasie begin uitbuit en hom met opset getart sodat hy sy vreeslike vloekwoord kon sê.

Dit was tog vir die terggeeste te lekker as Juffrou so kwaad raak omdat Peet so lelik praat. Hy het gladnie die vermoë gehad om 'n "wag voor sy mond te sit nie" en die vreeslike ou f-woord het sommer vanself sy pad gevind. Sonder sukkel. Onnadenkend, duidelik en hard, sodat almal in die onmiddellike omgewing en selfs verder dit goed kon hoor. Ek het duisende planne uitgedink om hom van dié gewoonte te laat genees, maar alles tevergeefs. As ons maar weer hoor, het Peet weer ge-f….!

Op 'n dag sê ek uit pure radeloosheid: "Ek klim sommer een middag in my kar en kom kyk wie vloek so daar by julle huis!" Hy het dié woorde onthou. Ek het dit onmiddellik vergeet, want wààr gaan 'n besige Graad Een Juffrou met vier kinders van haar eie tog nou tyd kry om te gaan luistervink speel.

Op 'n dag so 'n week of drie na my ondeurdagte dreigement, ry ek na my kleremaakster se huis. Ter insae: die naaste wat ek aan naaldwerk kom, is om onder groot druk miskien 'n kopseer-knoop aan te werk of 'n sukkel-soom in te sit. Op pad daarheen, vang my oog 'n paar kinders wat buite in hul erf balgooi en speel. Een van hulle was Peet.

Dìs dan waar hy woon, het ek gedink en besluit sommer net daar om met die terugkomslag te gaan kennis maak. Ek het gladnie gedink aan wat ek weke gelede vir hom gesê het nie. Ek was net nuuskierig om meer van sy huis en sy mense te wete te kom, want sien, ek was mos maar erg oor die ou seuntjie met die dik, bruin hare en beperkte begrip.

Die ontvangs was hartlik en baie opreg. Peet se Ouma was die hart van die huis, sy het my voorgestel aan Peet se ma wat skamerig geglimlag het en my aangekyk het met iets soos die allerheiligste respek. Hier was nou 'n regte Skooljuffrou voor haar oë. Ek het meteens só klein gevoel.

Peet se Mamma het toe nou ook nie veel gepraat nie; net alles met 'n inkennige glimlag beaam, haar oë dàn op die Ouma, dàn op my, dàn op Peet wat stom langs sy Ma se stoel geparkeer gestaan het sonder om te roer.

Ouma het die geselskap aan die gang gehou, tee gemaak, koppies uitgepak op 'n netjiese, gestyfde en uitgeborduurde skinkbordlappie. Sy het my uitgevra oor Peet se gedrag in die skool. Dit was opvallend hoe netjies alles in die huis was ten spyte van finansies wat seker ook maar karig was.

Die pa was 'n motorwerktuigkundige en nog by die werk tydens my kuier. Ons het nog so 'n bietjie ge-oe en ge-aa, Peet steeds tjoepstil langs Moeder se stoel en sy steeds sprakeloos. Ek besluit toe om maar te vertrek. Ek het hulle hartlik bedank vir die tee en belowe om weer te kom.

Toe ek wegry, sien ek in die truspieëltjie hoe Peet sy arms swaai asof hy vir ewig van my wou afskeid neem. Ek het nog kleiner gevoel en daaraan gedink hoe min tyd het dit nou van my gevra om net bietjie belangstelling te toon. Waarom kan ons dit nie meer doen nie? Ons sou die kinders wat voor ons in die skoolbanke sit tog soveel beter verstaan.

Die volgende oggend veilig terug in die skool en sommer nog aan die begin van die dag, vertel ek aan al die ander kleingoed hoe lekker ek gister by Peet gekuier en tee gedrink het. Ek wou nog asemskep om verder te borduur, toe hy skielik opspring en baie ingenome met homself uitroep:
" Ja! En ons VOEK nie mee' nie!"

Skielik het daar vir my 'n helder lig opgegaan en het ek gewéét hoekom hy heeltyd so vasgenael en doodstil langs sy ma se stoel gestaan het tydens my kuiertjie, sekerlik wagtende op die gevreesde oomblik wanneer Juffrou in haar kwaai stem sou sê:
"WIE VLOEK SO IN HIERDIE HUIS?!"

Onnodig om te sê, Peet se geliefde f-woord het 'n stille dood gesterf.

Janneman se verjaarsdag




Te midde van vele gebeurtenisse en woelinge, moontlike pakkette, opvoed en grootkry van eie vier uiteenlopende kinders, kopkrap oor finansies, Graad Eens wat leer lees en vele ander baie belangrike bedrywighede, het 'n groen ge"aaisiengde" trein op 'n dag my lewe binnegestoom en my tot stilstand geruk.

Die trein se vensters was van toffies, wit wattarook het by sy skoorsteen uitgejubel, sy wiele was ronde koekies. Daar was drie trokke en 'n enjin. Die wiele is met silwerblink foeliestawe aanmekaar gehou. Helderkleurige "smarties" en "hundreds-and- thousands" was oral op die groen versiersuiker vasgedruk.

Op sy foeliebord-platform by 'n vrolike stasie met die naam van "Geluk" het die trein 'n rukkie in Graad Een B se midde kom staan en elke Graad Eentjie se bewondering afgedwing:
"Juffrou, kyk sy wiele!"
"Kyk die kole! Rooi kole! Brand dit?"
"Oe, dis baie, baie moooooooi!" het hulle mondwaterend, lipaflekkend, bewonderend uitgeroep en om die verjaarsdagtrein op die stoep saamgebondel, waar ek dit op 'n lae tafeltjie staangemaak het.

En onse witkop Janneman het gestraal want dit was SY trein wat SY ma gebring het vir SY verjaarsdag.

Hy het die sewe kersies met één blaas doodgeblaas terwyl "Veels geluk liewe maatjie" vol ingehoue, wriemelende afwagting en elkeen-op-sy-eie-noot gesing is.

Toe het hulle 'n ry gemaak en ek het 'n dik skyf koek in elke handjie gesit. Daar was immers drie trokke EN 'n enjin. Lekkerrr taai, lekkerrr soet en groengekrummel het hulle stroopsoet anderkant uitgekom. As hulle die rook óók kon opeet, sou hulle seker.

Jacques, wat in die koshuis was, het baljaar tussen die groen krummels en die versiersuiker wat op die hardbordstasie agtergebly het. Hoekom klink "aaisieng" dan tog 'n lekseltjie lekkerder?

Behalwe vir dié heerlike Groen Trein, was daar vir elke kind ook nog 'n vierkantige kartondosie met 'n potlood-vol-prentjies bo-op en binne-in: springmielies, koekies en lekkers. Stroopsoet het ons op dié dag geword en stroopsoet het ons huis toe gegaan.

Die opregtheid en moeite van sy mamma het my by die Groen Trein laat halt roep.
 'n Blinkoog, witkop Graad Een seuntjie, goue oomblikke van borrelende blydskap, opgewonde maatjies om dié vreugde mee te deel. Dankie vir dìt wat jy in ons klas ingebring het, Groen Aaisieng Trein, dit wat mens nie regtig in woorde kan sê nie, dit wat iets beteken het te midde van duisende worstelinge en woelinge, inkomstebelastingvorms en bankstate en 'n klas vol Graad Eens wat singstem leer lees: “Dit is Pofmuis. Pofmuis soek 'n huis."

4 December 2013

Die nuwe tekkies


Dit was aan die begin van 'n splinternuwe jaar en daar was honderde goed om te doen: registers skryf, edlabkaarte invul, kinders se name leer ken, boeke oortrek, sillabusse bestudeer en toepas, voorbereiding doen, klasbesoeke deur die hoof, buitemuurse aktiwiteite en nog duisende ander kleiner en groter dinge. Ek was taamlik onder druk en doelgerig om alles reg en klaar te kry en veral op datum te kry. En ek was nog bloedjonk en onervare.

Vroeg een oggend op so 'n oorvol, besige dag kom Hannes na my tafel toe en kondig trots aan dat hy nuwe tekkies gekry het. "Dis te lekker," sê ek half onbetrokke, gedagtig aan al die werk wat voorlê vir dié spesifieke dag en angstig om te begin. "Kan ek dit vir Juffrou wys?" vra hy opgewonde.
"Ja, jy kan, maar nie nou nie, ons moet eers Bybel lees," het ek heeltemal te pligsgetrou gesê.

Ons het terstond met ons werk begin. Nà die Bybelles was dit Wiskunde en Hannes het weer probeer: "Kan ek nou my tekkies vir Juffrou wys?" "Jy kan netnou Hannes, kom ons maak net eers ons werk klaar!" Kan die ywer een mens so verteer? Hannes het geduldig gebly en sy werkies gedoen, maar elke keer weer probeer. Later het hy moed opgegee en ek, te midde van al die bedrywighede, het skoon vergeet van sy versoek. Kort-kort was daar iets anders wat my aandag geverg het. Ek het oral probeer raakvat en regdoen.

Aan die einde van die dag, net voor die huistoegaanklok sou lui, kom hy verleë voor my tafel staan, handjies agter die rug.
"Ja Hannes?" sê-vra ek, besig om op my tafel rond te vroetel en goeters in plek te kry.
"Juffrou….kan ek asb. net één tekkie vir Juffrou wys?" en hy hou 'n spierwit, splinternuwe tekkie omhoog, sy groot, blou oë vraend op sy Juffrou gerig.

Ek het soos 'n hond gevoel.  Soos 'n rondloperbrak, sommer 'n mislike ding.
"Gaan haal die ander een ook, dan wys ons vir almal!" het ek probeer troos.
"Trieieieieieieieieiengngngngng!" lui die klok.
Hannes vlieg met 'n vaart na sy stoel toe, gryp die ander nuwe tekkie, spring oor die banke in een beweging en kom staan langs my, altwee tekkies in sy hande omhoog en 'n glimlag wat van oor tot oor strek.
U i t e i n d e l i k!!
"Juffrou, hulle lyk altwee dieselle!" sê hy droogweg.

Onnodig om te sê, nà dié dag het ek met baie meer geduld na my kleingoed se oënskynlik onbelangrike versoekies geluister en gehoor daaraan gegee, gedagtig aan die feit dat dit nie net kinders is wat by onnies leer nie, maar dat onnies ook bitterbaie by hul leerlinge kan leer.
En net vir die rekord en ter nagedagtenis: jaaaare daarna kry ek eendag 'n oproep, 'n mooi jongmansstem aan die anderkant: "Juffrou, onthou Juffrou my nog? Dis Hannes, Hannes-van-die tekkies!" Teen dié tyd het hy my toe nou al seker sewentig maal sewe keer vergewe.

Slim kinders skryf sinne



Dit was in daardie jare die grootste bevrediging om so teen die einde van die tweede kwartaal te begin sien hoe die Graad Eens al ouliker word met sinne skryf.
Dit was lekker om te weet  jy het dit vir hulle geleer! Aan die begin van die jaar kon hulle nog niks doen nie en kyk dan nou! Die humor wat daarmee saamgegaan het, was miskien die lekkerste deel.

Hul spelling was gewoonlik baie foneties:
Ons was Sansiti toe en my pa het gedobil
Ek eet apil koos konfyt op my broot
Toe daar honger sloot in die land was….
Dit was baj lekker by die see
Meneer Kreer is ons hoof
Ons skryv skriv
Ek gaan ‘n steviekaat kry vir djoedou
My juffrou draa boetse en sy jelp as ek ‘n vout maak
My pa maak kast hy dra swaar goet
My ma het spesiehaal hys toe gekom om iets op die tiewie te kyk
Ek eet graag soeper sie
My pa en ma pikly oor die bou ‘n ry aan ons stranthys
My ma word kwaad vir my pa as hy jultuit sport kyk
Mamma bêre haar lipstif en paravien in haar handsak
Ons bly in Jammelpak (Riamarpark)
Die pen is haarne, ek het nie sulke pen nie
Ek gaan ‘n in geneer word dan teekin ek vir die bouers plani
Ek wil in ‘n dibilverdieping huis bly met ‘n borilbat en ‘n waterbet

3 December 2013

Die Groot Skrik


 
Hy was 'n stewige knapie met fris kuite en ronde boudjies. Sy hande en voete was ook groter as die ander seuntjies s'n wat saam met hom in die klas was. Die respek wat hy van die ander as gevolg hiervan afgedwing het, was duidelik merkbaar in hul optrede teenoor hom. Hulle het dit nooit gewaag om sy goed te vat of hom teë te gaan nie. Altyd maar ewe inskiklik en gedwee. 'n Mens sou hom dus seker maar 'n "boelie" kon noem, 'n baie eensame boelie.

Hy was in die koshuis en het maar min geleenthede gehad om huis toe te gaan. Sy pad moes hy vir homself oopveg, altyd maar op die verdedig, altyd maar baie braaf op die uiterlike getakseer, maar diep binne vreeslik, vreeslik onseker. Net maar 'n ou seuntjie wat liefde en aandag broodnodig gehad het, soos ons almal.

In die klas was hy ook maar partydae moeiliker as ander en het dikwels slordig gewerk en nie geluister nie. Een oggend was hy in 'n kwaai bui en wou almal om hom net hiet en gebied en sy wil laat geld. Kort-kort was daar 'n opstandigheid en 'n onrustigheid wat deur hom veroorsaak is. Elke keer het ek maar geduldig probeer vure doodslaan.

 Skielik gil die fyn, blonde, brose dogtertjiekind langs hom dit uit!
"Wat nou?"
"Hy het my met die potlood se punt gesteek en dit bloeoeoeoeoeii!" teem sy met 'n kry-my-jammer-voor-ek-doodbloeistemmetjie en die trane biggel uit haar popblou ogies.

My geduld was op. Nou vat ek hom "kleinkamertjie" toe. In al die gradeklasse was daar 'n stoorkamertjie waar mens jou boeke en apparaat en dinge wat van jou 'n beter juffrou kon maak, kon bêre en hier het ek menige kind gratis sielkundige behandeling gegee en soms ook 'n strenge wiks op die boud. Soos brood en konfyt, gesond op sy tyd. Die kleinkamertjie, soos hule dit genoem het, was dus 'n plek wat met groot eerbied en ontsag benader was deur alle Graad Eens.

Ek het agter sy stoel gaan staan en hom driftig aangesê om op te staan. Hy het geweier en terselfdertyd versteen: stokstywe, fris bene reguit voor hom uit, arms vasberade op die tafel voor hom vasgepleister. "Hier gaan ek nie beweeg nie!" het sy hele houding gesê. Sy mond was 'n dun lyn en sy groen oë groot en kwaai starend voor hom uit. 'n Soliede stuk seun van sewe.

"Staan op!" het ek weer probeer. Hy het net meer gedetermineerd op sy stoel vasgemessel bly sit, roerloos. Ek het met my regterbeen en voet die stoeltjie vorentoe gedruk om hom te probeer uitkry, maar verniet. Ek het  kwaad geword en hy al harder en stywer en meer moeilik. Met mening probeer ek hom van sy stoel loskry, maar hy SIT. Toe stoot ek hom met stoel en al in die rigting van die gevreesde kleinkamertjie.

Ten einde laaste het hy opgestaan, die stoel eenkant toe gestamp en manmoedig STYF gebly. Toe druk-druk ek hom met my been en voet, my hande op sy skouers om 'n beter greep te kry.

"Jou boude gaan ek looi hoor! Jy maak almal seer!" het ek moedeloos-verby gesê.

Stadig het dié ongewone stoet in die rigting van die kamertjie beweeg, steeds met groot teenstand van sy kant af. Ek het gestoot en hy het gerem. Skielik het sy stywe bene onder hom ingevou en het hy reg agteroor neergeslaan op die harde vloer. Dadelik het daar bloed uit sy agterkop gestroom. Ek het myself vanselfsprekend simpel geskrik en die bloed met die naaste handdoek probeer keer. Dit het net aanhou bloei.

 Die ander kleingoed het begin huil, paniekbevange aan mekaar se handjies vasgehou en met groot, bang ogies na mekaar en na my gekyk wat op daardie donker oomblik aan niks betekenisvol kon dink om te sê nie. Dit was die begin van massahisterie.

Ek het sy hand gegryp en hom, al bloeiende, by die klaskamerdeur uitgetrek met 'n vinnige: "Juffrou is nou-nou terug!" Langs ons klas was 'n badkamer. Met toiletpapier en koue water het ek die bloedstroom probeer keer, maar tevergeefs. My groot seun het teen dié tyd ook begin huil.

 In my angstigheid het ek al klaar gesien hoe staan daar in groot, swart letters op die voorblad van die koerant:
"Onderwyseres in hegtenis geneem weens moord op weerlose Graad Eentjie."

Ons twee het in 'n rekordtyd die stoep afgehardloop tot by die kantoor. Baie benoud het ek vir die sekretaresse gevra: "Kan jy help met hierdie kind? Hy't op sy kop geval en dit wil gladnie ophou bloei nie!" Sy het my bekommerd aangekyk en teruggevra: "Dink jy nie ons moet jou eers help nie, jy's so wit soos 'n lap!"

Ons het hom siekekamer toe gevat en watte op die bloeiplek gesit, sy hare daar weggeskeer en weer probeer, hom op sy maag laat lê en hom getroos en gepaai. Ek het hom al sy gruwelikhede vergewe en sy hand styf, styf vasgehou. Ek en hy ewe doodgeskrik. Ek het suikerwater gedrink en stadig maar seker opgehou met bew. Hy het opgehou bloei en soos 'n lam ter slagting stroopsoet op die bed bly lê... willoos en slap.

Skielik het ek my seëninge een vir een getel. Ek het besef hoe gou 'n ongeluk kan gebeur, hoe groot 'n Graad Een-Juffrou se verantwoordelikhede regtig is en hoe
e i n d e l o o s       g e d u l d i g
'n mens daagliks moet wees.

Onnodig om te sê, saam met die bloedverlies, het driekwart van sy stoutigheid deur die genade ook weggevloei en was die res van die jaar baie meer vredevol en kalm as die dag voor die Groot Skrik. Miskien het my "macho man" ook besef 'n kind wat inskiklik en gehoorsaam is, se lewe is baie meer rooskleurig as dié van 'n opstandige klein wandelende oorlog.
Of dalk, net dalk, het hy besluit: "Met hierdie Juffrou gaan ek nie weer sukkel nie, sy laat mens bloei."

Wat is in 'n naam?

Die son skyn wreedwarm op Moederaarde neer. Op die atletiekveld van die laerskool waar Juffrou Saar sit en name opskryf, is die sonstrale so 'n graad of wat intenser as elders. 'n Duidelike mansstem dawer oor die luidspreker: "Onder elf meisies, honderd meter naellope!" Wilgerlatlyfies tree aan by die wegspringplek. 'n Skoot klap. Ouers en kinders jil en gil. Die tiental kinders nael vir 'n vale, lê oop wenpaal toe, gee hulle beste. Onderwysers met sonbrille en breërandhoede staan slaggereed om te kyk wie is die eerste vyf. Een na die ander word uitgevang soos skape wat kraal toe moet gaan. Rooiwang en blaas-blaas staan die kinders in hul wenvolgorde voor Juffrou Saar in 'n ry.
"Naam?" vra sy, gereed om te skryf, selfversekerd en bedrewe in haar werk, jare se ondervinding agter die blad.
"Chantonné!" sê die blonde kind uitasem.
"Wat? Spel dit asb.?"
"Ch a n t o nn é!" sê die kind en die spoeg spat.
Juffrou Saar skryf. Waar sou die kind aan so 'n naam kom?
"Volgende? Naam?"
Sy kyk op en sien dis 'n kind van donker pigmentasie.
"Your name?"
"Tshegofatso-Nonhlanhla!" sê die kind triomfantelik. Spierwitte tande flits in die son.
"Write it down, please?" en Juffrou Saar gee die potlood in die tienjarige se hande. Sy skryf haar naam l a n g s a a m op die papier neer, kinderletters, swart letters op 'n wit papier.
Die derde kind staan voor Juffrou Saar.
"Marélisna!" sê sy sonder skroom.
Juffrou Saar vee 'n paar sweetdruppels van haar voorkop af , tik met haar sneesdoekie teen haar slape. Die soet reuk van haar "four-seven-and-eleven"- reukwater hang in die lug. Dan kyk sy vinnig op, sien die kind se glimlag en skryf dapper voort.
"Naam?" vra sy vir nommer vier, potlood huiwerend bokant die papier.
"Winsoretha" blaas die kind die vreemde naam uit voor Juffrou se blink aangesig.
Dis warm. Juffrou Saar is deeglik bewus van 'n polsende pyn in haar skof.
"Win-so-re-tha?" vra Juffrou Saar, beklemtoon elke lettergreep afsonderlik, net om doodseker te maak.
"Ja Juffrou! My Pa se naam is Winston en my ma s'n Retha en nou's ek sommer na altwee vernoem!" sê die kind ewe trots en bekkig. Juffrou Saar laat dié brokkie onnodige inligting by haar verbywarrel.
Dis nommer vyf se beurt om haar naam te sê.
Juffrou Saar kyk bekommerd op, 'n reuse vraagteken in lyne oor haar gesig.
"Sannie!" sê die kind eenvoudig..
Juffrou Saar spring op, stamp haar glas lou koeldrank om sodat dit in oranje poeletjies oor die papiere op die tafel stroom. Vergete is die hitte, vergete is die pyn in haar nek…sy gryp die kind se hande en draai met haar al in die rondte.
"Sannie, Sannie! Sannie! Ek soen jou sommer………. Sannie!"
Sannie, skoon oorbluf, se beker loop oor en sy dans saam, uitbundig-bly omdat sy v y f d e is!

2 December 2013

Die skoolsuster.


1992.

Dit was ‘n instelling dat die skoolsuster op taamlik gereelde basis die skool besoek het. Sy het, soos die Graad Eens dit opgesom het:
“oë en tande getoets”,
“kyk of ons kan hoor en sien wat juffrou op die bord skryf ”,
“toets ons lyf “,
“laat ons op ‘n stoel sit en ons hemde uittrek”,
“ondersoek jou oë en balans en dan moet jy die heeltyd vir jou vinger kyk”,
“sy kyk hoe lank ons is, of ons gesond is en sy skryf vir ons Ma ‘n briefie....”


Elkeen het sy eie weergawe gehad van wat dié sorgsame Suster alles sou doen.

Dit was weer sulke tyd en dié keer het die skoolsuster die kinders baie deeglik ondersoek.
Die seuntjies moes almal eerste na haar toe gaan in die skoolsaal waar sy met haar ondersoek besig was. By my in die klaskamer was net dogtertjies en hulle het almal angstig gewonder wat die skoolsuster alles met hulle gaan doen. Hulle kon mekaar taamlik opsteek om bang te word vir wat ookal op hulle wag.

”Sy het ‘n spuitnaald!” het ek enetjie hoor sê en ”sy kyk tot verrrrr agter in jou keel en as jou tande nie geborsel is nie, dan skryf sy vir jou Ma net so ‘n lang brief!” en sy beduie met smaak aan haar toehoorders hoe lank die brief presies gaan wees. Groot-ogig het hulle na haar geluister en begin naels kou. Ek moes kalmeer en paai en het die bangmaakstories sommer dadelik stopgesit.

Gou was die seuns terug en het met opgewonde gesiggies in ‘n ry voor die deur kom staan en aankondig: “Die meisiekinders moet nou kom!” Met ‘n gedreun van stoeltjies het hulle opgestaan en deur se kant te gebondel, die ene afwagting.

Toe die seuns rustig tot sit gekom het en ons aangaan met ons werk, daar waar ons opgehou het, het ek, ook maar mens en ook maar nuuskierig, gevra: “En wat het die skoolsuster alles gedoen?” Daar was dadelik ‘n gerondloer onder mekaar, ‘n soort onrustigheid en skamerige glimlaggies.
“ Sy het in ons broeke gekyk.” het een dapper seuntjie vinnig gesê.
“Rêrig?” het ek hom aangepor.
“Ja, en sy het daar gevoel ook.” het hy sonder skroom bygevoeg. Die ander het almal skielik alles waarmee hul besig was net so gelos en hul volle aandag aan die gesprek gegee, bang hulle mis iets.

“Sy moet dit doen, dis haar werk. Sy moet kyk of alles reg is “, het ek hulle so kalm as moontlik geantwoord. My onversteurde houding en kalmte moes bygedra het tot dit wat gevolg het. Hulle het die groen lig gekry.
“Sy sê mens noem dit ‘n penis!” het Roelfie uitgeroep, trots om dié vreemde woord te kon onthou en boonop reg uit te spreek.

Ek het doodluiters aangegaan met sterretjies plak en kwalik opgekyk. Hulle het almal gemaak asof hulle werk, maar ek het geweet hulle is nou so oorgehaal om te vertel soos nog nooit voorheen nie en ek was natuurlik doodnuuskierig. Nes dit ‘n goeie Juffrou betaam.


“Aaaaag ek noem hom sommer my ou Pietie!” het Wynand met sy bloedrooi appelwange en ‘n breë glimlag op sy ou mooi gesiggie gesê. Nou was daar geen keer aan hulle nie, hulle was op hul gemak en sonder enige voorbehoude of inhibisies, amper bly om al hierdie privaat kennis wat sekerlik tot dusver in die grootste geheimhouding toegehou is, met iemand te deel. Veral met iemand soos Juffrou.
“En ek noem myne Dik Daan!” het Timmy, ‘n tingerige, maer seuntjie uitgeroep.
Almal het geskater van die lag. Ek ook.


Toe het die dogtertjies skielik teruggekom en het ons dadelik dié gesprek stopgesit en doodluiters aangegaan met werk. Toe die pouseklok lui, kom staan Johan styf teen my en maak ‘n bakhandjie om iets in my oor te fluister. Ek buig af na hom toe en vra: “Wat is dit?”
“Juffrou, Juffrou moet weer die dogtertjies uit die klas stuur. Dis soooo lekker as ons so met Juffrou praat soos netnou. Ek het van dit gehou.”

Of hy ‘n Pietie-man of ‘n Dik Daan-man was, het hy nie gesê nie.
Ons vertrouensverhouding was stewig gevestig.
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...